Altesaam 71 studente van die Universiteit van die Vrystaat is vandeesweek weens betogings op hul kampus as deel van die #FeesMustFall-veldtog in hegtenis geneem.
Netwerk24 berig die polisie het gisteroggend 20 Kovsie-studente in hegtenis geneem nadat hulle glo ’n ingang van die Bloemfonteinkampus versper en verhinder het dat personeel die kampus binnegaan.
Nog twee studente is die vorige aand in hegtenis geneem nadat ’n groep studente ook ’n hek versper en voertuie verhinder het om in of uit te gaan.
Elders in die stad is tien studente aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie ook in hegtenis geneem.
Die Kovsie-studente sal na verwagting vandag op aanklagte van die verontagsaming van ’n hofbevel en die deelname aan ’n onwettige samekoms in die landdroshof in die stad verskyn.
Die UV sê al sy kampusse is tot 28 Oktober gesluit.
Intussen word die private Afrikaanse universiteit van Solidariteit, Akademia, oorval met aansoeke en het hy landwyd reeds meer as dubbel soveel navrae gekry as wat sy huidige studentetal is.
Netwerk24 berig dosente van Akademia se Bloemfonteinse satellietkampus moes vandeesweek bontstaan om voornemende studente en hul ouers op die ope dag van die kampus te woord te staan.
Dié universiteit se 11 kampusse landwyd word oorval omdat studente en hul ouers genoeg gehad het van die krisis by openbare universiteite.
Alle studente wat in Afrikaans wil studeer, is welkom by Akademia, maar moes minstens 40% vir Afrikaans in matriek behaal het, en vir wiskunde of rekeningkunde minstens 50%.
The post 71 STUDENTE GEARRESTEER TYDENS BETOGINGS appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.