Die Demokratiese Alliansie sê vergaderings om die Mangaung Metro-munisipaliteit se Geïntigreerde Ontwikkelingsplan met die publiek te bespreek, loop die gevaar om onwettig gehou te word.
Ingevolge die Wet op Munisipale-stelses is dit die metro se verantwoordelikheid om sy inwoners deur middel van die media in kennis stel van openbare vergaderings.
Die leier van die DA-koukus in die Mangaung Metroraad, Hardie Viviers, sê die reeds gepubliseerde datums vir die vergaderings om die metro se ontwikkelingsplan aan die publiek te verduidelik, is egter deur die metro se stadbestuurder verander.
Soveel as vier openbare deelname-vergaderings vir die volgende ontwikkelingsplan se datums is sonder kennisgewing gewysig.
Viviers sê dit is nie duidelik of die veranderings van die datums ook met die publiek gekommunikeer is nie.
Hy sê die vergaderings wat vir die komende week beplan word, bots ook met ‘n opleidingsessie vir raadslede deur die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging, SALGA wat in die metro aangebied word.
The post ONTWIKKELINGSPLAN ‘LOOP DIE GEVAAR OM ONWETTIG GEHOU TE WORD’ appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.