
Die regspan van die moordbeskuldigde, Henri van Breda, gaan na verwagting
vandag sy eerste kundige getuie roep in die Hooggeregshof in Kaapstad.
Van Breda word daarvan aangekla dat hy in Januarie 2015 sy ouers en broer vermoor en sy suster ernstig beseer het by hulle huis in die De Zalze-landgoed in Stellenbosch.
Van Breda beweer dat ‘n inbreker sy familie met ‘n byl vermoor het.
Die polisiebeampte wat vir die staat getuig het, het egter gesê dat daar geen teken was dat iemand by die huis ingebreek het nie.
Die veiligheidsbestuurder by die landgoed het ook getuig dat daar geen teken was dat iemand onregmatig toegang tot die landgoed verkry het nie.
Van Breda se regspan sal na verwagting ‘n DNS-kenner as sy eerste getuie roep.
In ‘n ander hof in die hooggeregshofgebou sal die voormalige hoof van
Sotheby’s, Jason Rohde, verskyn.
Hy word aangekla van die moord op sy vrou Susan.
Sy is in Julie verlede jaar dood gevind in ‘n hotel op ‘n wynlandgoed in Stellenbosch.
Rohde word daarvan aangekla dat hy haar verwurg het, terwyl hy beweer dat sy selfmoord gepleeg het.
The post Bylmoorde: Henri se regspan roep eerste getuie appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.