
Die DA het ʼn beroep op die minister van finansies, Malusi Gigaba, gedoen om
seker te maak dat twee reusekontrakte tussen die regering en Chinese
semi-staatsinstellings nie sal voortgaan sonder dat daar aan al die nodige
verkrygingswette voldoen word nie.
Volgens mediaberigte is die departement van water en sanitasie en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika, Prasa, tans besig om kontrakte ter waarde van R70 miljard aan Chinese semi-staatsinstellings toe te ken.
Die DA se Alf Lees sê die kontrakte sal toegeken word sonder ʼn openbare tender of toestemming van die nasionale tesourie om verkrygingswette te
omseil.
Lees sê Gigaba moet dringend ingryp om verantwoording te doen oor die
tesourie se beweerde afwyking van die mededingende tenderproses en die
versekering gee dat die regte prosedures gevolg sal word voordat die kontrakte aan Chinese maatskappye toegeken word.
Hy sê Suid-Afrika kan nie nog ʼn korrupte multimiljardrand-tendertransaksie tussen regerings bekostig nie.
The post Kontrakte met Chinese semi-staatsinstellings appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.