AfriForum Jeug sê die Universiteit van die Vrystaat (UV) se prosedures vir die komende SR-verkiesing is beide gebrekkige en onregmatig. Die organisasie het in skrywe aan die universiteit die UV se verkiesingsprosedures en -reëls van die studenteraad gekritiseer en bevraagteken.
’n Nuwe verkiesingsdatum is steeds nie aangekondig nie, maar die studentedekaan van die UV het tydens ’n vergadering gister bevestig dat die UV tesame met die Onafhanklike Verkiesingsagentskap (OVA) en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gister sou vergader oor nuwe moontlike aankondigings en verkiesingsdatums.
Die jeugorganisasie veroordeel ook die UV se besluit om die verkiesing vir ’n derde keer vanjaar uit te stel.
Chantelle du Preez, AfriForum Jeug se Kovsie-takvoorsitter en SR-kandidaat vir transformasie, sê die voortslepende probleme aangaande die verkiesingprosedures en -reëls, asook die herhaaldelike uitstel van die verkiesing, verhoed nie net die gladde verloop daarvan nie, maar ook dat dit grondwetlik, demokraties en ordelik geskied.
Sy sê voorts dat die organisasie ook weinig terugvoer van die UV en SR op navrae en klagtes rondom die onderskeie verkiesingskwessies kry.
Verder het die organisasie ook ’n verduideliking geëis rondom die publisering van inligting oor AfriForum Jeug se kandidate op Lindokuhle Ntuli, huidige SR-president en lid van Sasco, se Facebook-blad wat gepaard gaan met verskeie uitlatings teenoor dié kandidate asook AfriForum Jeug.
Die organisasie ondersoek tans dié voorval.
“Dit is onaanvaarbaar dat daar soveel probleme tydens ’n SR-verkiesing ondervind word en dat die proses aanhoudend sloer. AfriForum Jeug se kandidate is ywerig om ’n positiewe verskil op die UV-kampus te maak, maar dit wil voorkom of die belange van studente nie vir die SR of universiteit as belangrik geag word nie,” sê Reon Pienaar, AfriForum Jeug se SR-presidentskandidaat.
The post UV: “SR-VERKIESING ONREGMATIG” appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.