![](http://100punt6coza-t5r4lsnzxm11vo6cs.stackpathdns.com/wp-content/uploads/Rosestad-100.6-Nuus-Bloemfontein-Stadsaal-geen-verskoning-vir-geweld-nie-150x150.jpg)
Olly Mlamleli, burgemeester van die Mangaung-metro wat Bloemfontein, Botshabelo, Dewetsdorp, Wepener en Tweespruit insluit, het na bewering nie opgedaag vir ʼn vergadering met die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersvakbond (SAMWU) nie en onderhandelinge tussen die vakbond en die munisipaliteit onder die burgemeester se leiding was tot dusver ook duidelik nie suksesvol nie.
Dit is volgens dr. Elizabeth Snyman-van Deventer, VF Plus-raadslid in die metro, in reaksie op die verwoestende brand by die Bloemfontein Stadsaal Woensdagaand.
Snyman-van Deventer sê dit is weereens bewys dat die ANC en veral Mlamleli nie daartoe in staat is om die metro te bestuur nie.
Die staking duur reeds langer as ʼn maand voort met dienslewering en ander noodsaaklike funksies wat feitlik tot stilstand gekom het.
“Dit het net begin lyk of die staking op ʼn einde is toe die burgemeester se aksies skynbaar direk tot die hernude chaos aanleiding gegee het,” sê Snyman-van Deventer
Sy sê die VF Plus veroordeel die sinnelose geweld wat die Bloemfonteinse stadsaal in puin gelê het ten sterkste en versoek die polisie om alles in hulle mag te doen om die skuldiges wie se dade aanleiding tot die vernietiging van die erfenisbate en ander eiendom gegee het aan die pen te laat ry.
“Daar is geen verskoning wat sulke verwoesting kan regverdig nie,” het Snyman-van Deventer gesê.
AfriForum se koördineerder in Bloemfontein, Pieta Myburgh sê sy buurtwaglede was gisteraand op bystand om die polisie te ondersteun.
“Ons veroordeel ten sterkste die geweld wat uitgebreek het en ons strukture waar ons takke het sal die situasie dophou,” sê Myburgh.
Rosestad Nuus se Gerdie Karstens was Donderdagoggend vroeg weer by die Bloemfontein Stadsaal. Dié video was die skade wat aangerig is.
The post Bloemfontein Stadsaal: “Daar is geen verskoning vir geweld nie” appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.