![Armlastige Bfn inwoner sonder krag](http://100punt6coza-t5r4lsnzxm11vo6cs.stackpathdns.com/wp-content/uploads/n-173-150x150.png)
Administratiewe rompslomp is glo die rede waarom ‘n armlastige 84-jarige
Bloemfonteinse inwoner se krag summier deur Centlec afgeskakel is.
Netwerk24 berig die 84-jarige Chrissie Baker se krag is Dinsdag summier afgeskakel nadat sy al in 2015 aansoek gedoen het om as armlastige geregistreer te word.
Baker, wat geen kind of kraai het nie en wie se enigste inkomste haar pensioen is, is in besit van die bewysstrokie van ontvangs om haar as armlastige te registreer.
Dit is al in November 2015 uitgereik.
DA-raadslid Hans Britz het haar Dinsdagaand in ‘n stokou huis in Victoria-weg aangetref waar sy in stik donker gesit het en nie kon kos maak of kon was nie.
Intussen het Britz die saak met Sabatha Mofokeng in die metro se finansiële
kantoor opgeneem, waar gevind is Baker se aansoek is administratief goedgekeur, maar nog nie deur die raad nie.
Centlec-woordvoerder, Lele Mamatu, sê die verskaffer was nie bewus daarvan dat die metro in die proses was om haar as armlastige te registreer nie en daarom is haar krag afgesny.
’n Voorafbetaalde kragmeter sou gister of vandag by haar huis aangebring word sodat sy maandeliks ’n hoeveelheid gratis krag kan kry soos wat met ander armlastiges die geval is.
Intussen moet sy met ‘n gel-stofie en herlaaibare lig oor die weg kom.
The post Armlastige Bfn inwoner sonder krag appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.