Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het gevra dat die polities-gemotiveerde teistering van die minister van Finansies, Pravin Gordhan, beëindig moet word.
Die SAKP het in ‘n verklaring ná ’n vergadering van sy sentrale komitee ook die tydsberekening van die aantygings teen die minister bevraagteken.
Die party sê die beweerde aanklagte teen Gordhan word net as ‘n voorwendsel gebruik om hom uit sy pos te verwyder en die Tesourie se stryd teen korrupsie en staatskaping te verswak.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het intussen berigte ontken dat Gordhan dié week van korrupsie aangekla gaan word.
Rapport het gister berig dat die saak teen die minister en drie voormalige amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Ivan Pillay, Oupa Magashula en Johann van Loggerenberg nou in die hande is van die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, advokaat Shaun Abrahams, nadat die Valke die dossier Vrydag aan hom oorhandig het.
Die koerant sê meer as 30 getuies staan glo gereed om teen die vier te getuig.
NVG-woordvoerder Luvuyo Mfaku sê geen besluit is nog geneem om enigiemand te vervolg nie.
The post “DIE TEISTERING VAN GORDHAN MOET EINDIG” appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.