!['Verliese van SAUK moet van Motsoeneng verhaal word"](http://100punt6.co.za/wp-content/uploads/kk-184-150x150.png)
Die Vryheidsfront Plus sê die verliese wat die SAUK gely het weens
wanbestuur en verkeerde besluite van sy gewese bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, moet persoonlik van Motsoeneng verhaal word.
Die party se parlementêre woordvoerder oor Kommunikasie, Anton Alberts, het dit gesê tydens die parlementêre debat oor die ad hoc-komitee se finale verslag oor die SAUK.
Hy sê hulle gaan die Maatskappye-kommissie versoek om ondersoek in te stel na besluite van Motsoeneng wat tot geldelike verliese gelei het.
Alberts sê Motsoeneng en die Minister van Kommunikasie, Faith Muthambi, het die wet op elke moontlike wyse omseil om vir eiebelang beheer oor die SAUK te verkry.
Die EFF eis intussen op sy beurt strafregtelike aanklagte teen persone wat in die finale verslag oor die SAUK betrek word.
Die Nasionale Vergadering het gister oor die verslag debat gevoer, waarna dit aanvaar is.
Die EFF-parlementslid, Fana Mokoena, sê Muthambi het ‘n onwettige Memorandum van Inkorporasie gebruik om die SAUK te bedryf.
Hy het die hoop uitgespreek dat President Jacob Zuma sy eie belange opsy sal skuif en Muthambi afdank.
Alle partye het die verslag gesteun, met slegs die UDM wat beswaar aangeteken het omdat Motsoeneng nie die kans gekry het om persoonlik sy kant van die saak te stel nie.
The post ‘Verliese van SAUK moet van Motsoeneng verhaal word” appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.