Vyf tienerjariges, van wie die jongste 14 jaar oud is, verskyn vandag en môre
in die hof nadat hulle na bewering ’n skoolmeisie in Zastron in die Vrystaat verkrag het.
Netwerk24 berig die polisie probeer nog twee verdagtes opspoor in verband met die verkragting van ’n 15-jarige meisie Vrydagaand laat toe sy alleen van die kerk af op pad huistoe was.
Sers. Yanga Ngcukana, polisiewoordvoerder, sê die tieners is Saterdag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem.
Volgens Ngcukana het die meisie een van haar vermeende verkragters aan die polisie uitgewys en hy is dadelik in hegtenis geneem.
Sy makkers is kort daarna aangekeer.
Drie van die verdagtes verskyn vandag in die hof en die ander twee verskyn môre.
Al vyf sal op aanklag van verkragting verskyn.
The post 5 tieners vas vir die verkragting van meisie (15) appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.