![AANKLAGTE TEEN 2 CHEETAH-BOKKE GESKRAP](http://100punt6.co.za/wp-content/uploads/gf-106-150x150.png)
Die aanklagte teen die Cheetahs se twee blitsige Bokke, Oupa Mohoje en
Raymond Rhule, rakende spoedoortredings is geskrap nadat albei suksesvol ‘n
afwentelingsprogram voltooi het.
Netwerk24 berig senior landdros Cornelius Mokgobo het in hul afwesigheid die klagte teruggetrek nadat elkeen ’n afwentelingsprogram van die Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en die Herintegrasie van Oortreders, Nicro, suksesvol deurloop het.
Die twee was op Sondag 8 Januarie van vakansie in die Kaap op pad terug na Bloemfontein toe Mohoje teen 173 km/h in die omgewing van Tierpoort in sy Toyota afgetrek is en Rhule aangekeer is toe hy omgedraai het om te gaan kyk hoekom sy vriend so lank wegbly.
Rhule het teen 171 km/h in sy Jeep agter Mohoje gery toe hy in die snelstrik gevang is.
In die afwentelingsprogram is hulle van verkeerswette geleer, moes na DVD’s oor roekelose bestuur, ongelukke en die gevolge daarvan kyk.
Daarna moes hulle navorsing doen en ’ n werkstuk indien. Albei die Bokke het die program geslaag.
The post AANKLAGTE TEEN 2 CHEETAH-BOKKE GESKRAP appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.