Quantcast
Channel: Radio Rosestad 100.6FM
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5283

DIE PROBLEEM MET MY KLEUR (BLOG)

$
0
0
Rosestad 100.6 Nuus Nicole Viljoen Die probleem met my kleur

Ek was nog nooit iemand wat my veel steur aan politiek of die opinies van mense wat ander mense in bokse plaas en dink, omdat een mens ‘n sekere manier is, dat almal so is nie, skryf Nicole Viljoen:

Ek het ‘n dik vel wanneer dit by opinies kom en hoe mense dink dat hul opinie water dra wanneer dit gegee word.

Ek het ook al baie vroeg in my lewe geleer dat opinie nie elke keer gegee moet word nie.  ‘n Opinie wat jou oningelig laat klink doen meer skade en gooi petrol op die vuur.

Daar is baie min opinies wat insiggewend is, meeste is maar gegee uit die gevoel dat jy ‘n reg het om jou stem dik te maak. Meeste opinies het baie woede as ‘n ondertoon.

“Ek het nooit gevoel in my lewe dat ek voordeel getrek het oor my kleur nie.”

Baie vêr van opbouend af.

Ek sit hier voor hierdie skerm en wroeg om hierdie te skryf, want ek breek nou die een reël wat ek vir myself gestel het. Ek wil nie my velkleur ‘n fokuspunt maak nie.  Ek voel tog dat wat ek nou gaan deel nie noodwendig ‘n opinie is nie maar ‘n ervaring.  Ek gee ook glad nie raad oor hoe ‘n mens te werke moet gaan as dit by rassisme kom nie.  Ek is nie ingelig genoeg om dit te doen nie.

Ek is maar net iemand wat probeer verstaan.

Ek sit en kyk vir myself in die spieël,veral my velkleur. Ek het nog nooit gevoel ek moet ‘n ander kleur wees nie.  Ek kan dit nie eers indink nie.  Ek wonder toe as ek kon kies of ek ‘n ander kleur sou wou wees? Ek wonder toe of iemand van ‘n ander kleur graag my kleur sou wou wees?

Ek het nooit gevoel in my lewe dat ek voordeel getrek het oor my kleur nie.

“Vryheid van spraak is nie so vry nie.”

Dalk omdat ek nie so groot gemaak is nie. Ek is groot gemaak dat alle mense ewe veel waarde het, ongeag van status, kleur of agtergrond.  Tog word daar vir my gesê ek het. Dit bly maar weereens die opinie van iemand anders. Iemand wat my nie ken nie en dus dra dit geen water nie.

Tog dra ek ‘n juk op my skouers omdat my velkleur ‘n simbool is vir ander wat swaar gekry het. Die simbool verteenwoordig pyn van ‘n tyd toe ek nog nie eers gebore was nie. Tog word ek in ‘n boks geplaas.  Haatspraak word teen mense met dieselfde kleur as ek uitgespreek uit woede oor die verlede.

Ek besef toe hoe moeilik mense vergewe.

Ek besef toe ook hoe mense so graag gehoor wil word en hoe mense net wil hê iemand moet hul pyn raak sien.

Met dit gesê voel ek tog woede in my met ‘n tikkie sprakeloosheid. Ek kry nie my kop om sekere dinge nie.  Daar word baklei vir die reg om vryheid van spraak te hê.  Sosiale platforms bied dit, maar tog as iemand dalk net iets sê wat iemand nie van hou nie word dit ‘n “media frenzy.” Mense word afgedank en beswadder omdat hul juis hul opinies gelig het.

Vryheid van spraak is nie so vry nie.

“Dit kom neer op wat jy as mens van gemaak is in jou binneste”

Ek glo ook nie dat vryheid van spraak vir enige mens altyd ‘n goeie ding is nie.  Dit is nie konstruktief nie.  Sekere dinge hoort in jou dagboek, privaat en nie vir die wêreld om te sien nie.  Jy moet in die lyne beweeg as dit by ras kom wat verstaanbaar is, maar van wat ek op sosiale platforms sien is die woede baie eensydig.  Dit is asof mense iets soek om iemand te teiken.  Mense soek uitlaat vir hul woede, uitlaat vir hul pyn, uitlaat vir hul vrese.

Ek kan nie verstaan hoe een mens openlik ander kan aanspoor om mense van ‘n ander kleur of geloof te vermoor nie?

Ek kan nie verstaan hoe een mens die besluit maak om bejaardes te teiken om hul punt oor te dra nie?

Ek kan nie verstaan hoe kinders verkrag word nie?

Hoe vrouens vermoor word terwyl hul mans vasgebind is en moet toekyk nie, magteloos?

Ek verstaan nie hoe iemand in ‘n winkelsentrum instap en begin skiet nie? Ongeag van kleur.

Dit kom neer op wat jy as mens van gemaak is in jou binneste. Dit kom neer op die vergifnis wat jy weier om te aanvaar of om te gee. Sulke mense leef in soveel donker, sulke mense glo so ‘n leuen.

Die leuen dat hul alleen is, die leuen dat hul die enigste mense is wat pyn het. D

it wys my net hoe gebroke mense is. Dit wys my die wraak wat iemand teenoor ander voel.

Kom ons sê al die mense wie jy dink jy haat, word uitgewis op die aarde, dink jy vir een oomblik dat jy vryheid en vrede gaan hê? Inteendeel, as al die mense wat jy haat weg is gaan jy jouself in die gesig moet staar.

Een of ander tyd gaan jy met jou verlede moet reken. Een of ander tyd gaan jy moet aanvaar dat jy seer het.

Dit is al hoe jy gaan genees.

Dit is nie maklik om te laat gaan van die verlede nie. Die verlede en dinge van die verlede wat jy saamdra, maak nie wie jy is nie. Dit is iets wat met jou gebeur het.

Om te vergewe en te laat gaan is seker die moeilikste ding om te doen maar met dit gesê dit is die een ding wat opbouend is en wat sal seker maak dat jou pad vorentoe nie so swaar sal wees nie.

Vergifnis is vrede.

Punt.

Stel jou voor ons kon mekaar vergewe en in harmonie saam lewe? Stel jouself voor ons kon saam aan ‘n land bou wat soveel waarde het vir almal?

Is dit so onmoontlik? Hoekom is vergifnis nêrens te sien nie?

Ek kom tot die groot beseffing. Die probleem met my vel kleur lê nie by my nie.

Die probleem met my kleur lê by die persoon wat seer het. Die probleem lê by die persoon wat bang is om te vergewe, want hul glo hul hele identiteit is gebaseer oor hoe swaar dit was, of hul nou deel van daardie tyd was of nie.

‘Ek is vry want ek kan vergewe’

Ek dink dit is baie hartseer dat mense so bang is om te laat gaan, want wat as hul nie weet wie hulle eintlik is nie?

Ons almal klou aan iets wat ons laat voel ons het waarde. Die vraag moet gevra word of dit waaraan jy vasklou jou weerhou om te word wie jy eintlik moet wees?

My velkleur is maar net ‘n slaansak vir die een wat nie kan laat gaan nie, wie sukkel om te vergewe en al word ek uitgewis gaan daardie persoon nogsteeds seer hê.

Die probleem met my kleur is nie my probleem nie.

Al wat ek kan doen is om seker te maak ek bly ‘n goeie en getroue mens deur dit alles.

Ek glo dat die Here wil hê ons moet mekaar vergewe. Dit is al hoe almal op dieselfde vlak kan kom en saam aan iets bou.

My velkleur is nie wie ek is nie, my velkleur is die pakkie waarin ek kom en ek is trots op wie en wat ek is.

Ek is vry want ek kan vergewe, ek is vry want ek glo dat daar goed in elke mens is.
My velkleur is nie my probleem nie. My velkleur is die simbool van die seer waarmee jy weier om vrede te maak en te laat gaan.

Solank mense seer het sal hul altyd iemand of iets probeer blameer.

Vergifnis is al wat dit sal laat weggaan.

The post DIE PROBLEEM MET MY KLEUR (BLOG) appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5283

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!