![Rosestad 100.6 Nuus 'Droogte nie verby'](http://100punt6.co.za/wp-content/uploads/Rosestad-100.6-Nuus-Droogte-nie-verby-150x150.jpg)
Landbouers in die Vrystaat is ongelooflik dankbaar vir elke druppel reën wat al geval het.
Volgens Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, het dele in die weste van die provinsie tussen 1 en 8 Januarie 2017 tussen 100mm en 150mm gemeet. Dié neerslae het egter oor klein dele van die provinsie voorgekom.
“Vir talle landbouers in die Suid-Vrystaat was verlede week se neerslae die eerste noemenswaardige reën wat hulle ontvang het sedert die aanvang van die 2016/17 somerseisoen.”
Neerslae in die provinsie wissel tussen geen reën, in ‘n gedeelte van die Oos-Vrystaat, tot 150mm.
Droogte toestande heers steeds in veral die Suid-, Suidoos-, Suidwes- en Wes-Vrystaat, met distrikte soos Smithfield, Rouxville, Dewetsdorp, Zastron en VanStadensrus wat tussen 1mm en 25mm gemeet het.
Vrystaat Landbou (VL) se Jack Armour sê vir talle landbouers in die Suid-Vrystaat was verlede week se neerslae die eerste noemenswaardige reën wat hulle ontvang het sedert die aanvang van die 2016/17 somerseisoen.
Van hierdie dele gaan reeds sedert 2013 onder droogtetoestande gebuk, en gaan dus nog aansienlike reënval benodig om uit die greep van die droogte te kom. Hoewel die reën wat oor droogte dele geval het verligting bring, bestaan nood steeds om veral vee te voer, aangesien dit in sommige gevalle drie tot vyf jaar kan neem vir weiding om ten volle te herstel.
Van den Berg voorspel dat goeie neerslae (tussen 50mm en 100mm) op die korttermyn (die res van Januarie en eerste deel van Februarie) nog oor dele van die land kan voorkom.
Vrystaat Landbou (VL) het ook ‘n versoek gerig aan enige iemand wat landbouers kan bystaan.
Die organisasie is landbouers reeds sedert Oktober 2015 behulpsaam met droogtehulp, en tans benodig ons verdere fondse vir die aankoop van voer/voerpille of vervoer van voer.
Die hulp wat benodig word is veral voerpille vir skape.
VL sê enige een wat moontlik kan help met donasies van fondse, voer of vervoer, word gevra om ons te kontak. Skakel Cynthia Troost by 051 4444 609, of stuur ‘n e-pos aan cynthia@vslandbou.co.za.
“Die dele van waar ons versoeke vir hulp van landbouers ontvang, sluit in: Rouxville, Dewetsdorp, Smithfield, Reddersburg, Edenburg, Trompsburg, Springfontein, Jagersfontein, Phillippolis, Fauresmith, Koffiefontein, Petrusburg, Dealesville, Boshof, Hertzogville en Brandfort.”
The post ‘Droogte is nie verby nie’ appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.