Die EFF-leier, Julius Malema, het Afrikaners gewaarsku dat die EFF vir hulle gaan kom vir hulle grond en dat hy nie kan waarborg wat gaan gebeur as dit nie aan hulle teruggegee word nie.
Netwerk24 berig Malema het gister buite die landroshof in Bloemfontein sy volgelinge en media toegespreek.
Hy word daarvan aangekla dat hy die Wet op Oproerige Byeenkomste van 1956 oortree het toe hy EFF-lede in 2014 op die party se verkiesingskongres in Bloemfontein aangemoedig het om grond onwettig te beset.
Malema het aan die skare gesê : “Afrikaner- boys, die poppe gaan dans. Die EFF kom vir julle.”
Malema het gesê sy woorde – dat wit mense geslag moet word – is verdraai en dat hy vra bloot dat hulle grond teruggegee word anders kan hy nie waarborg wat volgende gaan gebeur nie.
Hy het bygevoeg die EFF is nie bang vir Afrikaners nie omdat dit land nie aan hulle behoort nie en hulle dus eintlik net besoekers is.
AfriForum het intussen ‘n duidelike boodskap aan Malema uitgestuur en gesê anders as wat die EFF-leier dink, is AfriForum en Afrikaners nie bang vir hom nie.
Netwerk24 berig Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Malema gewaarsku om nie geweld te romantiseer nie en dat hy moet besef geweld deur sy ondersteuners sal ’n teenreaksie uitlok wat eindelik tot almal in die land se nadeel sal wees.
Volgens Kriel misgis Malema hom indien hy die selfbeheersing wat minderhede nou weens sy uitlokkende uitsprake toon, as swakheid beskou.
The post “AFRIKANERS, DIE EFF KOM VIR JULLE” – MALEMA appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.