Die polisie in Bloemfontein ondersoek ’n klag van sakeroof nadat vier gewapende mans ’n winkel van ’n burger van Bangladesj Maandag in Universitas beroof het.
Polisiewoordvoerder kapt. Chaka Marope sê die mans het by die winkel ingestap en hulle eers as klante voorgedoen voordat hulle klapmusse en vuurwapens uitgehaal en die winkeleienaar, ’n veiligheidswag en werknemers gedreig het.
Die mans het kontant en selfoonlugtyd gebuit en weggehardloop sonder om ’n skoot af te vuur.
Niemand is beseer nie.
In ‘n afsonderlike voorval is ‘n 46-jarige vrou Maandagoggend in die parkeerterrein by die skougronde ontvoer kort nadat sy die gimnasium verlaat het.
Volgens Marope het ‘n gewapende man die vrou in haar motor gedwing en R5 000 geëis.
Die verdagte het die vrou se bankkaart en PIN gevat en dit vir sy makker gegee, die vrou se twee selfone gevat en weggehardloop.
Klagte van ontvoering en roof word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
The post WINKEL IN BFN BEROOF DEUR 4 GEWAPENDE MANS appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.