Die DA gaan vanoggend ’n dringende aansoek indien om die regering se besluit om Suid-Afrika aan die Internasionale Strafhof te onttrek, regstreeks in die Konstitusionele Hof te betwis.
Volgens die DA is die besluit onder meer ongrondwetlik en irrasioneel.
DA-leier Mmusi Maimane sê die besluit is strydig met die land se verbintenis tot internasionale geregtigheid en menseregte, terwyl dit ook ’n drastiese daling in die land se status in die internasionale gemeenskap tot gevolg het.
Hy sê die DA sal aanvoer dat die besluit ongrondwetlik en prosedureel irrasioneel is omdat die parlement en die publiek nie daaroor geraadpleeg is nie.
Die Anglikaanse emeritus aartsbiskop Njongonkulu Ndungane het ook die regering se besluit ten sterkste gekritiseer en ’n pleidooi gelewer dat dit heroorweeg word.
Hy sê in ’n verklaring met die besluit onderneem die regering om die korrupte elite eerder as die mense van Suid-Afrika te verdedig.
Ndungane sê nie net Suid-Afrikaners word in die steek gelaat nie, maar dit vernietig ook die hoop van miljoene mense in Afrika wat Suid-Afrika as ’n baken van hoop vir die gemarginaliseerdes gesien het.
The post ‘DIE REGERING SE BESLUIT IS ONGRONDWETLIK’ appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.