Die ANC sê die polisie moet ophou om studente met rubberkoeëls te skiet.
Woordvoerder Zizi Kodwa sê die party veroordeel die gebruik van rubberkoeëls en doen ook ‘n beroep op die polisie om hul daarvan te weerhou om studente uit te lok.
Die Universiteit van die Witwatersrand het intussen bevestig dat vier studente, waaronder ‘n studenteleier, Shaeera Kalla, beseer is toe hulle gister met rubberkoeëls raakgeskiet is toe die polisie ‘n groep betogers op die kampus uiteengejaag het.
Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, OPOD, het intussen bekend gemaak dat ondersoek ingestel gaan word na gister se voorval waarin Kalla glo verskeie kere in die rug geskiet is met rubberkoeëls.
Woordvoerder, brigadier Brigadier Sally de Beer sê in ‘n verklaring indien daar bevind word dat enige polisiebeampte die wet oortree het, sal daar opgetree word.
Kalla, wat in die hospitaal opgeneem is, skryf op haar Facebook dat sy op kort afstand 13 keer op haar rug getref is tydens ‘n vreedsame betoging.
Die minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het vroeër in ‘n onderhoud met News24 gesê dit lyk of die polisie paniekerig raak wanneer hulle met betogende studente te doen het.
Sy het haar kommer uitgespreek oor die gebruik van rubberkoeëls en gesê die polisie moet na die voete van betogers of die grond mik pleks van na hul bolywe.
Mapisa-Nqakula sê die polisie moet nie probeer om mense te beseer nie, maar om ‘n situasie te neutraliseer.
The post “POLISIE MOET NIE STUDENTE MET RUBBERKOEëLS SKIET NIE” – ANC appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.