Vir die afgelope paar jaar was Otto Liebenberg die gereelde aanbieder op Donderdagaande van die kultuurprogram Note met Stories op Radio Rosestad. Die program het ten doel gehad om veral in die Afrikaanse- en Suid-Afrikaanse musiekbedryf, kunstenaars oor die hele musiekspektrum, aan die luisteraars voor te stel, skryf Babs Cloete:
Verstommend was die Bykans vergete name van kunstenaars wat Otto in herinnering geroep het; mense wie se name lankal vergete sou gewees het, of van wie niemand wat vandag nog lewe, hoegenaamd iets sou geweet het nie. Veral verbasend ook was die deeglikheid waarmee hy die navorsing en voorbereiding gedoen het, en hoe hy hom daarop toegespits het om slegs die mees akkurate inligting te verstrek.
Hy het ook daarop gekonsentreer om diegene wat op die bepaalde Donderdag – of so na as moontlik aan dié Donderdag van die uitsending – verjaar het of oorlede is. So het hy al direk uit die ateljee, met bv. Johan van Rensburg, van die televisieprogram, Noot vir Noot, op sy verjaarsdag gepraat om hom geluk te wens. Soms was dit operasangers wat in Suid-Afrika gebore en plaaslik of oorsee, opgelei is en wat later groot hoogtes in die buiteland bereik het – dikwels mense van wie ons nooit sou geweet het as dit nie vir Otto se bydraes op Note met Stories was nie.
Hy was nooit elitisties nie en het elkeen wat ‘n bydrae gemaak het tot die bevordering van Suid-Afrikaanse, maar veral Afrikaanse musiek, hoog aangeskryf – ‘n verskeidenheid wat gewissel het van die Briels, Cora Marie, boeremusieklegendes, tot by operasterre, komponiste en musikante van weleer. Daar was vele meer in die 160 programme wat uitgesaai is – net te veel om op te noem.
Hy het altyd glimlaggend en op ‘n drafstap die ateljee binnegekom – meesal geklee in ‘n baadjie en ‘n das. Sy vertellings, in uitstekende Afrikaans, was boeiend en insiggewend en sy vertelstyl, met sy effense, kenmerkende bry, het daardie uur gewoonlik laat omvlieg. Hoe gewaardeerd sy program was, het geblyk uit die talle sms’e wat op die Sondagaand na sy dood, ontvang is.
Otto Liebenberg se bydrae tot die verryking van Radio Rosestad se programme, ook as ‘n Sondagaand-gas oor vele jare heen met praatjies oor NALN en inligting oor ander kultuur-bedrywighede, bustoere, huldigingsprogramme, ens., is onmeetbaar. Hy het elke geleentheid benut om oor NALN te kom gesels, en dit was ‘n plesier om hom as gas te hê met sy gemaklike en gladde gesprekvoering.
Ons plaaslike asook die breë kultuurgemeenskap het voorwaar ‘n persoon van sonderlinge statuur en integriteit verloor; iemand wat alles met die grootste beskeidenheid en gloeiende entoesiasme gedoen het.
Ons eer Otto Liebenberg se nagedagtenis en wens sy vrou Danila – wat ook ‘n Trusteelid van RR is – sy drie dogters en sy skoonouers, Maretha en Hennie Maartens asook sy oud-kollegas en vriendekring, die krag van ons Skepper toe om die leemte wat sy dood gaan laat, te verwerk.
Babs Cloete – Radio Rosestad
The post HULDEBLYK AAN OTTO LIEBENBERG – NALN appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.