Die vise-kanselier van die Universiteit van Johannesburg, professor Ihron Rensburg, sê alle akademiese bedrywighede by die universiteit gaan voort ondanks studentebetogings.
Hy sê in ‘n verklaring meer as 99% van die studente steun nie die twyfelagtige agenda van die minder as 1% wat vasbeslote is om die universiteit te ontwrig.
Rensburg sê veiligheidsmaatreëls op die kampus is verskerp en die universiteit is in die proses om tugstappe te doen teen studente-amokmakers wat reeds geïdentifiseer is.
Intussen het die vise-kanselier van die Universiteit van Kaapstad, dr. Max Price, die versekering gegee dat klasse Maandag hervat sal word.
Hy het op ‘n nuuskonferensie gesê daar sal ernstige negatiewe gevolge vir die universiteit en studente wees as die akademiese werk langer opgeskort word.
Price sê as hulle nie ondersteuning van die betogende studente en studenteleiers kry nie, sal groot getalle veiligheidswagte Maandag op die kampus ontplooi moet word.
Hy sê indien klasse langer as drie weke gesluit bly, sal die akademiese jaar opgeskort moet word en eers in 2017 hervat word.
The post “UJ GAAN VOORT ONDANKS STUDENTEBETOGINGS” appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.