AfriForum en Solidariteit verwelkom die besluit van die Konstitusionele Hof om die aansoek van die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) dat appèl oor die universiteit se taalbeleid direk deur hierdie hof aangehoor word, met koste van die hand te wys.
Die Bloemfonteinse hooggeregshof het op 21 Julie 2016 beslis dat die besluit van die universiteit se raad en senaat op ’n taalbeleid wat Afrikaans as primêre onderrigmedium uitfaseer, tersyde gestel word. Die UV-bestuur het gepoog om direk tot die Konstitusionele Hof teen die uitspraak te appelleer.
Volgens Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sal die UV nou tot die appèlhof moet appelleer. “Die saak is van geweldige belang wat taalregte aanbetref en dit is dus belangrik dat dit op alle vlakke in die laer howe geargumenteer word.”
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, bevestig dat die organisasies se regspan gereed vir die appèlsaak is.
“Tog is dit tragies dat die UV se bestuur hardnekkig voortgaan met die saak, ten spyte van die hof se duidelike beslissing dat die nuwe taalbeleid diskriminerend is en studente van toegang tot studie by die instelling gaan weerhou.”
Hierdie beslissing is die derde oorwinning vir AfriForum en Solidariteit in die stryd teen die bestuur se keuse vir ’n ongrondwetlike taalbeleid.
Solidariteit en AfriForum doen ’n dringende beroep op alle voornemende Afrikaanse studente aan die UV om duidelik in hul aansoeke te meld dat hulle in Afrikaans wil studeer.
Die universiteit moet van die behoefte aan Afrikaanse onderrig kennis neem en studente kan met die keuse bewys hoe sterk hulle oor hul reg tot moedertaalonderrig voel.
VERKLARING
The post UV-APPÈLAANSOEK VAN DIE HAND GEWYS appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.