Die ANC se hoof van die subkomitee oor ekonomiese transformasie, Enoch Godongwana, sê bewerings oor die minister van Finansies, Pravin Gordhan, se betrokkenheid by ’n sogenaamde geheime eenheid in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is ’n fabrisering en polities gemotiveerd.
Hy het in ‘n onderhoud met eNCA gesê die ondersoek deur die Valke na Gordhan is ’n poging om hom uit sy amp te verwyder en die Nasionale Tesourie te verswak.
Dit volg nadat Gordhan ondersoek laat instel het na besteding by Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens, asook na die vennootskap tussen Denel en ’n maatskappy van die Gupta-familie.
Godongwana sy hy stem saam dat die aanklagte teen die minister gefabriseer word om al daardie dinge onder die mat te vee.
Die ANC het hom intussen van Godongwana se uitlatings gedistansieer.
Woordvoerder Zizi Kodwa sê dit was nog nooit die ANC se siening dat daar ‘n polities gemotiveerde ondersoek na Gordhan is nie.
Hy sê die ANC se standpunt oor Gordhan is steeds dieselfde en dit is dat hy nie bo die reg verhewe is nie en dat wetstoepassingsagentskappe in terme van die wet moet optree.
Kodwa het ‘n vroeëre oproep herhaal dat ANC-lede nie uit hul beurt moet praat nie.
The post GORDHAN SE BETROKKENHEID BY GEHEIME EENHEID “IS ‘N FABRISERING” appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.