
Alhoewel die polisie sê dat hy voortgaan om prioriteit te gee aan plaasmoorde, is dit net lippetaal, aangesien die minister van polisie, Fikile Mbalula, meen die huidige stappe om boere te beskerm is voldoende, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê die antwoord van die minister op ʼn geskrewe parlementêre vraag is teleurstellend en ʼn stap in die verkeerde rigting wat landelike beveiliging aanbetref.
Hy oorweeg nie spesialiseenhede vir landelike beveiliging nie en bou net voort op die bestaande landelike beveiligingstrategie, wat juis gebreke het, veral met die praktiese toepassing wat nie realiseer nie. Tans is daar ongeveer twintig polisiestasies in landelike gebiede wat nie eers aan die minimum vereistes van sektorpolisiëring voldoen nie.
Dr. Groenewald sê dit is wel verblydend dat die minister onderneem om die ‘kapasiteit’ by landelike polisiekantore te verhoog en dat verskeie stappe geneem word om veiligheid in dié gebiede te verhoog.
Dit sluit in dat plekke met ʼn hoë voorkoms van aanvalle (sg. hotspots) geïdentifiseer word, voorvalle word geanaliseer om tendense en modus operandi te bepaal, verskerpte patrollies in sulke gebiede, besoeke aan plase, en nog ander stappe.
Hy sê boere kla lank reeds dat die polisie nie meer plase besoek nie en dit is ook geopper by ʼn bespreking oor plaasveiligheid by Aardklop.
In antwoord op dr. Groenewald se eerste vraag oor stappe wat geneem gaan word gesien in die lig van die vlaag aanvalle in Augustus vanjaar waar ses mense in 23 aanvalle vermoor is, is die antwoord dat die aantal nie bevestig kan word nie en dat die voorvalle tans in ʼn proses van ‘verifiëring’ is.
Dr. Groenewald sê dit is ook onaanvaarbaar dat die polisie steeds nie kan bevestig hoeveel plaasaanvalle en -moorde daar in Augustus vanjaar was nie en dat dit alleen reeds ʼn groot aanduiding is dat die polisie en die regering nie werklik erns het met plaasaanvalle nie.
Dit dui ook daarop dat die polisie moontlik nie meer die kapasiteit het om misdaadinligting vinnig te ontleed en voorkomende maatreëls te tref nie.
“Ek sal met ʼn opvolgvraag aan die minister vra presies wat hy bedoel met ‘verhoogde kapasiteit’ by landelike polisiekantore sodat dit gemoniteer kan word om vas te stel of dié onderneming daadwerklik uitgevoer gaan word.
“Verder klink dit bloot na ʼn voortsetting van bestaande maatreëls wat sonder twyfel nie voldoende is nie,” sê dr. Groenewald.
The post Plaasmoorde as prioriteit vir polisie ‘is lippetaal’ appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.