Jy kry verloor en dan soos verloorders speel. Laasgemoemde is die mentaliteit deesdae van die Springbokke. Dit maak dat mens net nie meer opgewonde raak oor toetsrugby nie. Dit is net nie meer dieselfde nie, skryf Armand Cloete:
Gewoonlik was die opwinding hoog in die huis (wel Pa s’n, in elk geval) wanneer die Springbokke speel. Kinders het geweet, nee is verduidelik dat Pa vir die volgende twee-uur buite aksie sal wees. Die biltong, droëwors en chips saam met die keel-natmakers was lank voor die tyd reg. Aandete was klaar bespreek.
En niemand durf vóór die TV verbyloop nie.
Maar nou is dit anders.
Dit sal nie eers rerig pla as iemand besluit om die kanaal op NCIS of CSI of selfs Bones te sit nie.
Politiek het Springbokrugby doodgemaak
Almal besef en aanvaar dié feit.
Wel, almal behalwe die besluitnemers.
Dankie Fikile.
Dankie Oregan.
Dankie Allistair.
Dankie vir niks.
Die Bok is gewond en dit lyk nie goed vir ons gekweste dier nie. ‘n Mens kan nie meer kyk hoe die Springbok vrek nie
Erens die week sien ek op YouTube hoe ons legendes gespeel het: André Joubert, Gysie Pienaar, Gerrie Germishuizen, Ray Mordt, Carel du Plessis en ja, selfs Naas Botha.
Húlle was nog Springbokke. Geen groot salarisse. Geen borge. Geen kwotas.
Net trots.
Hulle was gekies omdat hulle die bestes was; sommige van hulle die bestes in die wêreld.
Die nostalgie van Springbokrugby is presies dít. Dit is ‘n nostalgie, die herinnering en verlange aan iets wat (dalk vir ewig) verlore is.
So, in plaas van Saterdae die hele huis tot stilstand te bring vir die groen-en-goud, raak ek nostalgies en kyk maar ou-rugby.
Lekker saamkyk:
The post BLOG: DAN KYK EK MAAR OU RUGBY appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.