
Die leiers van politieke opposisiepartye, burgerlike samelewingsgroepe en vakbonde lei ʼn optog na die Parlement ter ondersteuning van hulle verenigde beroep dat Jacob Zuma as president afgedank moet word.
Die DA sê in ʼn verklaring dat Zuma die mense se geld gesteel het, die grondwet en sy ampseed verbreek het en die land uitverkoop het aan ʼn klein groepie baie ryk individue.
Die DA vervolg dat hoewel Zuma se afdanking nie alle probleme sal oplos nie, sal dit die begin wees van ʼn dringende projek vir nasionale heropbou.
Sommige inwoners van Gauteng het die strate vanoggend ingevaar en paaie met brandende buitebande en klippe versper.
Ander het weer die keuse uitgeoefen om by die opmars na die Uniegebou aan te sluit om die mosie te steun wat daarop gemik is om Zuma uit die kussings te lig.
Een betoger, wat slegs as Mpostoli bekend wil staan, sê hy verwag nie dat Zuma ná vanmiddag meer president sal wees nie.
Intussen is parlementêre personeel ingesweer om die geheime stemmingsproses in vanmiddag se deurslaggewende wantrouedebat te hanteer.
90 minute word afgestaan vir die debat wat om twee uur begin.
Stemhokkies sal daarna in die Nasionale Vergadering se raadsaal opgestel word en die LP’s sal een vir een ingeroep word en hulle stemme in die hokkies uitbring.
Hulle sal ja of nee kan stem of buite stemming bly op ʼn gestempelde stembriefie.
The post KYK: Optog na Parlement teen Zuma appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.