
Met president Jacob Zuma se lot wat op die spel is, het nuwe bewyse aan die lig gekom dat sy vierde vrou, Bongi Ngema-Zuma, voordeel getrek het uit sy verbintenisse.
Die jongste Gupta uitgelekte e-posse onthul hoe gunslone uit reusekontrakte van staatsbeheerde maatskappye glo ná geldwassery aangewend is vir Ngema-Zuma se luukse Waterkloof-eiendom in Pretoria.
Ten spyte van ontkennings sedert 2011 het ondersoekende joernaliste van Amabhungane en Scorpio transaksies blootgelê waarvolgens die Guptas deur maatskappye wat in Duduzane Zuma se naam geregistreer is, vier en ʼn half miljoen Rand bygedra het tot die herehuis se R5,2 miljoen koopprys.
Intussen word ANC-LP’s na wat berig word die leviete voorgelees in ʼn koukusvergadering voor vanmiddag se wantrouedebat.
Waarnemers sê hulle sal opdrag kry om teen die mosie te stem.
Sommige ANC-LP’s het in die openbaar hul gebrek aan vertroue in Zuma te kenne gegee wat daartoe aanleiding gegee het dat daar druk op hulle uitgeoefen is.
Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, en Zuma woon glo vanoggend se vergadering by.
The post Ngema-Zuma se huis glo deur Guptas betaal appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.