![Plaasaanval naby Brits: Nog niemand gearresteer nie](http://100punt6coza-t5r4lsnzxm11vo6cs.stackpathdns.com/wp-content/uploads/Windmill_Falke_640_853_80auto_s-3-150x150.jpg)
Twee plaasaanvalle het sowat 14 ure uitmekaar in twee verskillende dele van die Vrystaat voorgekom.
Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting is ses werkers Dinsdag, 1 Augustus 2017, op Johan Botha se plaas, Balitho, naby Clocolan aangeval.
Die plaas lê teen Suid-Afrika se grens met Lesotho.
Twee mans het omstreeks 11h00 vier werkers op die plaas genader en aangedui dat hulle glo melk wou koop.
Kort daarna het die twee mans wapens uitgeruk, en het vier ander verdagtes by hulle aangesluit terwyl hulle die werkers gedwing het om na die plaashuis toe te gaan.
In die huis is die vier werkers en twee huishulpe vasgebind, en die huis is geplunder terwyl die verdagtes vir hulself kos gemaak het.
Onder die items wat gesteel is, is wapens.
Die verdagtes het hulle buit op ‘n trekker en wa gelaai en van die plaashuis, wat ‘n paar honderd meter van die Caledonrivier geleë is, gery.
Daar is die goedere deur die rivier gedra en in ‘n voertuig gelaai waarmee op die vlug geslaan is.
Net voor die verdagtes weggery het, het hulle die veld aan die brand gesteek.
Die vermoede bestaan dat die aanvallers aanvanklik wou wag dat Botha tuiskom na hy soos oudergewoonte die kinders by die skool gaan haal, maar Botha se bakkie het gebreek.
Hy was besig om te stroop in landerye waar geen opvangs was nie, en het omstreeks 15h00 die werkers en die brand by sy huis aangetref.
Hy het die noodplan geaktiveer, en terwyl roetes gepatroleer is, het van sy bure het hom kom help om die brand te blus. Slegs veld het afgebrand.
Niemand is ernstig tydens die voorval beseer nie.
In ‘n tweede voorval het Gustav Louw omstreek 00h30 op 2 Augustus 2017 wakker geword van sy honde se geblaf en ’n veiligheidsheining se alarm wat afgegaan het op die plaas Leeuwfontein tussen Theunissen en Virginia.
Die plaas is geleë in ’n wildskamp wat deur ’n myn se gronde omring word.
Louw het ondersoek ingestel, en gesien hoe een van die vyf verdagtes besig was om oor die veiligheidsheining te klim.
Hy het ‘n waarskuwingskoot afgevuur, waarna die verdagtes op die vlug geslaan het.
Die plaaslike veiligheidstelsel is geaktiveer, en landbouers van Theunissen en Virginia het die roetes gepatroleer as deel van die soektog na die verdagtes.
Die Polisie se honde eenheid was ook op die toneel.
Die verdagtes word nog gesoek.
Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Landelike Veiligheids Komitee, wil landbouers aanmoedig om baie paraat te wees, veral langs die Lesothogrens.
Volgens die lessenaar se statistiek, is dit die vyfde voorval in die Clocolan omgewing die jaar.
Esterhuyse voeg by dat die lessenaar se statistiek oor die afgelope tyd ook aandui dat die aantal aanvallers tydens plaasaanvalle toenemend meer word as die aantal slagoffers wat geteiken word.
“Die komitee en lessenaar gaan tydens ons gereelde gesprekke met die Polisie en die Weermag, vanaf plaaslike plaaswagstelsels tot by vergaderings met provinsiale hooggeplaasdes, die druk verhoog vir verskerpte beveiliging, veral langs die grens,” aldus Esterhuyse.
Verklaring
The post Twee plaasaanvalle in een dag in VS appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.