
Jip, dit is presies wat jy dink: die balle wat ons so in die lug probeer hou…
Ek probeer nog vasstel of daar ‘n ritme vir die eerste kwartaal van 2017 is, want dinge voel maar so bietjie holderstebolder. Maandagoggend toe ek onder deur die 15 meter lange prieël loop na die praktykdeur toe, tref dit my soos ‘n bom: daar is ‘n geknars onder my voete. Net daar slaan ek anker soos iemand wat op ‘n Jan die Labrador Landmyn getrap het.
Na ‘n paar oomblikke besef ek toe wat dit is wat my so tot stilstand dwing: roes.
Die hele prieël het daardie pragtige skakerings van bruin en oranje en bietjie groen- kenmerkend van die herfs. ‘n Pragtige kombinasie van roesbruin kleure.
Ons hou die balle in die lug. Almal van hulle.
Dit is mos wat die lewe van ons vereis.
Ons lees Prediker en wonder hoe hy geweet het dat ons in 2017 so gaan rondhardloop: ‘n gejaag na wind!
Die balle bly in die lug. Dit moet.
Almal wil ‘n bietjie van jou tyd, geld en energie hê – die werk, die kinders, jou lewensmaat, die ouers, die tuin, die kat, die drie honde, die wasgoed, die skottelgoed, die kerk, die skool, die….
Ek raak sommer verbouereerd net om die lys te tik.
Daar is egter ‘n vangstrik met die balle.
Wat die gemiddelde persoon nie weet nie is dat dit nie gaan oor die balle in die lug hou nie, maar dat jy sekere van die balle kan laat val.
Dit werk soos volg:
Party balle is van glas. As dit val, is dit verby. Geen gom, geen weermag, geen goeie intensie kan dit weer herstel na die oorspronklike vorm nie.
Party balle is van rubber. Hulle hop maar net en kan dan maar weer later in die lug gehou word.
Party is van klip. Moenie eens probeer om hulle in die lug hou nie!
Maak gerus jou eie lys.
Glas: My gesin en direkte omgewing. Hanteer versigting. Hou die bal in die lug. Prioretiseer sodat my tyd, geld en energie primêr daarop gerig kan wees. Fokus. Moet niks laat val nie.
Rubber: My werk, komitees (en skoonouers!) is van rubber. Hierdie balle kan maar soms val. Hulle is veerkragtig en sal weer in die lug kom.
Klip: Skuldgevoelens, emosionele bagasie en mense wat my vreugde en vrede steel. Hulle kan maar uit my balanseer-toertjie bly. Ek gaan nie eers probeer om hulle saam te sleep nie.
Die vraag is: hoe hou ek die glasballe in die lug?
Met dae. Nie die gejaag-na-wind-dae nie. Dit is die kom-ons-skep-herinneringe-dae.
Dit is dae wat spesifiek opsygesit word met ‘n doel.
Mens kry ‘n tuin-dag. Waar jy die sleepwa huur, vir Johannes laat kom en inspring met ‘n kritiese oog. Vol grond, met ‘n af rug, maar tevrede.
Mens kry ‘n pajamadag. Dis die dag waar jy nie die voordeur oopmaak nie en heeldag in die huis besig is met iets lekker… dvd, boeklees, mosaic, koekies bak… enige iets LEKKERS.
Mens kry ‘n hart-dag. Waar jy en jou lewensmaat die dag afvat… eet ontbyt saam, gaan fliek, gaan koop iets op die kredietkaart, drink koffie by die mall.
Dit hou die glasballe in die lug. Ook die tennisballe. En die snoekerballe… solank jy net Leeuloop!
Doen wat jy kan, daar waar jy is, met dit wat jy het.
Dr Lizelle Nel (DPhil MW: UP, Hon Slk: UNISA) is ‘n spelterapeut en maatskaplike werker van Bloemfontein. Sy spesialiseer in kinders, gesin, huwelik, egskeiding, trauma en bemagtiging. Maak gerus hier met haar kontak.
The post Balle in die lug [Lesse met Lizelle] appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.