Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbethe, sê die vlaag plaasaanvalle in die land die afgelope maand regverdig nie ‘n debat daaroor in die parlement nie. Daar was effektiewelik ‘n plaasaanval bykans elke dag in Februarie en elf moorde op plase in dieselfde tydperk.
”Dit is skokkend dat die groeiende slagting onder boere van Suid-Afrika nie as belangrik genoeg geag word om in die land se parlement bespreek te word nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Groenewald het verlede week Mbete verlede week versoek om ʼn dringende debat oor die plaasmoorde en –aanvalle toe te laat.
“Dit wil voorkom asof die lewe van boere en hul werkers vir die regering nie van belang is nie.”
Hoewel Mbethe in haar antwoord erken dat plaasaanvalle ‘n “ernstige aageleentheid” is, het sy die versoek vir ‘n dringende debat afgekeur,
Dr. Groenewald sê dit is tragies dat ʼn moord op ʼn boer sowat elke vierde dag in Suid-Afrika en feitlik ʼn plaasaanval per dag volgens die Speaker nie dringend genoeg, of van genoegsame nasionale belang is om ʼn parlementêre debat daaroor toe te laat nie.
Volgens dr. Groenewald beskou die VF Plus dié besluit as skokkend onvanpas. Hy sê dit is ook ʼn duidelike weerspieëling van die ANC-regering se houding oor die jare teenoor plaasaanvalle.
“Plaasaanvalle raak elke Suid-Afrikaner”
Groenewald sê hy gaan dit egter nie daar laat nie en gaan vra vir ʼn persoonlike afspraak met die Speaker om die saak met haar te bespreek. Hy sê dit wil voorkom asof die lewe van boere en hul werkers vir die regering nie van belang is nie.
Groenewald is veral besorgd oor die skerp toename in die aantal moorde en veral plaasaanvalle, asook die brutaliteit in baie van die voorvalle oor die laaste paar jaar. Hy meen die nasionale polisiediens kon ook nie daarin slaag om sy plig uit te voer om landelike gebiede en in die besonder die boerderygemeenskap, te beveilig nie.
“Dit kan eenvoudig nie so voortgaan nie. Plaasaanvalle raak elke Suid-Afrikaner. Die landbousektor voorsien werk aan byna ʼn miljoen mense terwyl die sektor 6,9% bydra tot die BBP van die land.”
Daar is tans minder as 35 000 kommersiële boerdery-eenhede oor om voedsel vir die land te produseer.
“Dit hou daarom nie net ernstige gevolge in vir die veiligheid van die land in terme van voedselsekuriteit nie, maar ook vir die stabiliteit van die arbeidsmark en ekonomiese ontwikkeling in die algemeen” sê dr. Groenewald.
In 2016 is 70 boere in 345 plaasaanvalle in Suid-Afrika vermoor.
The post Mbethe: Geen debat oor plaasmoorde appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.