
Die Vryheidsfront Plus sê die Mangaung Metro-munisipaliteit se ongemagtigde uitgawes van meer as R 2 miljard is onaanvaarbaar. Tydens ‘n spesiale Mangaung Metroraadsvergadering wat Maandag gehou is, is die Ouditeur-Generaal (OG) die 2015/2016 oudituitkomste van die Mangaung Metro-munisipaliteit ter tafel gelê. Die verslag en kommentaar deur die Ouditeur-Generaal was uiters negatief.
Die OG het ‘n gekwalifiseerde mening oor Mangaung se finansiële state uitgespreek en veral die wanklassifikasie van bates, wesenlike verliese en onderspandering van voorwaardelike toekennings het tot die negatiewe mening aanleiding gegee.
Klem is ook gelê op die laat betaling van krediteure en die toename in vrugtelose en verkwiste uitgawes.
Dévar Smit, VF Plus raadslid in die Mangaung Metro sê dat hoewel ongemagtigde uitgawes afgeneem het, dit onaanvaarbaar is dat hierdie uitgawes steeds R2.7 miljard beloop het.
“Die VF Plus betreur hierdie swak prestasie van die munisipaliteit en dring daarop aan dat voldoening aan die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur deur die Munisipale Bestuurder as rekenpligte amptenaar afgedwing word.”
Smit het voorts die onvermoë van die ANC om die munisipaliteit behoorlik te bestuur beklemtoon. Hy meen die rede vir die ongemagtigde uitgawes is die gevolg van swak beplanning en begroting asook gebrekkige bestuur.
“Daar word swak begroot ten opsigte van byvoorbeeld die vervanging van bates.”
Smit meen die huidige finansiële posisie van die metro is kommerwekkend, aangesien daar ‘n toename in inkomste van slegs 5.5% was, terwyl die uitgawes met 8.7% toegeneem het.
“Dit dui op die ANC regering se onvermoë om behoorlike bestuur toe te pas.”
The post OG lewer negatiewe verslag vir Mangaung appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.