
Die sportdroogte wat lank in die Rosestad geheers het, is verbreek met ‘n
rugby- en kriekettoets, sowel as nasionale atletiek en netbal wat vanjaar vir Bloemfontein geoormerk is.
Netwerk24 berig die Suid-Afrikaanse Rugbyunie behoort binnekort bekend te maak dat die Rosestad op 30 September vir sy eerste Rugbykampioenskap-toets sedert 2010 sal gasheer speel.
Die Bokke pak dan die Wallabies, soos sewe jaar vantevore, in die Toyota-stadion.
Ses dae later bied die Mangaung-ovaal die kriekettoets tussen die Proteas en Bangladesj aan, waarna daar op 26 Oktober ’n T20-wedstryd teen dieselfde teenstander volg.
Atletiek Suid-Afrika het verlede week aangekondig die Mangaung-stadion sal op 8 Maart vir een van vier nasionale byeenkomste van die nuwe Speed-reeks gasheer wees.
Die nuutste toevoeging is drie naweke van die Premierliga-netbalreeks in Junie waarin die Vrystaat-Crinums tuis in aksie sal wees.
The post SPORTDROOGTE EINDIG VIR BFN appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.