
Die vakbond Solidariteit beplan verdere regsaksies teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens in verband met optrede wat strydig is met bepalings van die Wet op Gelyke Indiensneming. Dit volg nadat generaal-majoor Sandra Malebe-Thema teen die einde van verlede jaar rassistiese en diskriminerende opmerkings teenoor opleidingspersoneel verbonde aan die Polisie se opleidingskool op Oudtshoorn gemaak het sonder dat dit enige nagevolge vir haar ingehou het.
Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê die betrokke personeellede se grondwetlike reg op waardigheid en gelykheid deur dié optrede ernstig aangetas.

Generaal-majoor Sandra Malebe-Thema
Malebe-Thema het glo tydens die geleentheid opleidingspersoneellede na die verhoog ontbied en vernederende opmerkings oor hul kleredrag en gewig gemaak, waarna sy na berig word verskeie rassistiese opmerkings gemaak het deur onder meer te sê dat daar te veel wit gesigte in opleiding is en dat sogenaamde diskriminasie teenoor swart studente stopgesit sal word.
Volgens Van der Bijl het Malebe-Thema na bewering dit onder meer gestel dat wit personeellede wat in sekere afdelings werksaam is, hulself reeds vir ’n geruime tyd onregmatig verryk.
Sy het ook glo pertinent gemeld dat die wit instrukteurs rassiste is wat die studente onder hul bevel onregmatig hanteer.
“Die SAPD het nie teen die sperdatum van 20 Januarie teen generaal-majoor Malebe-Thema opgetree nie.”
“Nie net het Malebe-Thema die personeellede ten aanskoue van die rekrute aan die opleidingskool verneder deur hulle op die verhoog te verkleineer nie, maar sy het ook weens hul ras diskriminerend teenoor die betrokke personeellede opgetree,” het Van der Bijl gesê.
Hy sê nadat die betrokke personeellede interne grieweprosedures gevolg het en Solidariteit haar weens haar optrede by die Menseregtekommissie verkla het, het die SAPD nie teen die sperdatum van 20 Januarie teen generaal-majoor Malebe-Thema opgetree nie.
“Kragtens artikel 60 van die Wet op Billike Indiensneming kan Solidariteit nou die SAPD weens sy gebrek aan optrede teen Malebe-Thema in die arbeidshof pak,” het Van der Bijl verduidelik.
Volgens Van der Bijl sal die vakbond hierdie weg volg aangesien daar nie daadwerklik teen Malebe-Thema opgetree is nie.
“Solidariteit eis dat hierdie voorval onpartydig ondersoek en die nodige dissiplinêre stappe teen Malebe-Thema geneem word.”
The post Geen optrede teen rassisme in SAPD appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.