
Ons slaak almal ‘n sug van verligting. Dankie tog vir Februarie, want sedert middel Desember tot einde Januarie was daar meer maand as geld. Dit is mos in Januarie dat mens wens die bankbestuurder was ‘n persoonlike vriend wat jou ‘n guns of twee kan doen.
Nou is Januarie se salaris inbetaal en ons hoop op finansiële beheer vir die tydperk wat voorlê.
Hoewel dit nie presies so meetbaar is nie, werk ons emosionele emmertjies maar op dieselfde beginsel. Mense belê in ons en dan onttrek hulle ook maar weer.
“Dit is die plek waar jy jou masker kan afhaal en net kan wéés”
Die probleem met enige verhouding lê daarin dat ons emosionele bankrekeninge nie ‘n oortrokke fasiliteit het nie.
Ons kry verskillende tipes mense in ons lewe.
Onttrekkers
Dit is dié mense in jou lewe wat die heeltyd kritiseer, manipuleer, intimideer en jou laat voel asof daar ‘n fout by jóu lê.
Soms is dit “vriende” of familie of jou lewensmaat wat altyd gereedstaan om vir jou die “regte” antwoord te gee, juis omdat hulle (beweerdelik) so baie vir jou omgee.
Eintlik onttrek hulle net, want wanneer jy uit hulle geselskap weggaan, voel jy sommer emosioneel leeggetrek, met jou emosionele bankrekening diep in die rooi van skuldgevoelens, streng selfondersoek en gevoelens van minderwaardigheid.
Oënskynlike beleggers
Dit is dié mense wat (voor jou) heeltyd aan jou kant is en saam met jou gereed staan om teen die wêreld te baklei.
Ongeag of jy reg of verkeerd is, por hulle jou aan om vir jouself op te staan en (beweer) dat hulle altyd aan jou kant is.
“Wie het toegang tot jou emosionele bankrekening?”
Die probleem lê in die woordjie “oënskynlik”, want wanneer die markte in jou emosionele bankrekening wissel, is hulle so ver weg soos Januarie se “payday”
Kredietwaardige individue
Hierdie tipe persoon is dié wat ons graag in ons lewe wil hê. In hierdie kategorie kry ons die mense wat emosioneel in jou belê.
Hulle sal tyd saam jou deurbring, altyd eerlik wees met jou, want dit is die plek waar jy jou masker kan afhaal en net kan wéés.

Dr. Lizelle Nel
Dit is ook die mense wat eerlik en opreg vir jou kan sê wanneer jy wel verkeerd is of oorsensitief was, of effens irrasioneel optree (wat natuurlik maklik gebeur).
Die bietjie wat hulle dan uit ons emosionele bankrekening onttrek, is veel minder as die positiewe energie wat hulle deurlopend belê.
Die uitdaging vir jou is dus die volgende: wie het toegang tot jou emosionele bankrekening?
Gee jy jou persoonlike inligting uit aan elke Jan Rap en sy maat wat graag toegang wil hê?
Of keur jy die mense wat toegang het tot jou emosionele bankrekening?
Maak beter keuses. Kies om jou bloot te stel aan Kredietwaardige individue.
Dit is blywend, standhoudend, eerlik, opreg en bied die beste rentekoers.
Doen wat jy kan, daar waar jy is, met dit wat jy het!
Dr Lizelle Nel (DPhil MW: UP, Hon Slk: UNISA) is ‘n spelterapeut en maatskaplike werker van Bloemfontein. Sy spesialiseer in kinders, gesin, huwelik, egskeiding, trauma en bemagtiging. Maak gerus hier met haar kontak.
The post Beskerm jou emosionele rekening só (Lesse met Lizelle) appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.