Die minister van finansies, Pravin Gordhan, gaan nie vandag ’n waarskuwingsverklaring by die Valke aflê nie, aldus sy prokureurs.
Gordhan se prokureurs het gistermiddag ’n prokureursbrief aan die Valke gestuur nadat laasgenoemde hom vroeër opdrag gegee het om twee-uur vanmiddag by die Valke ’n waarskuwingsverklaring oor sy beweerde rol in die sogenaamde spioenasie eenheid van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens af te lê.
Die eenheid is gestig toe Gordhan destyds nog SAID-kommissaris was.
Swaargewigte in die Suid-Afrikaanse finansiële sektor steun Gordhan nadat dit bekend geword het dat hy weer in die Valke se visier is.
In ’n ope brief aan pres. Jacob Zuma het Business Leadership South Africa gesê niemand is bo die reg verhewe nie, maar die ondersoek teen Gordhan het geen geloofwaardigheid nie.
Die organisasie, wat gesiene sakelui soos Maria Ramos van Barclays Africa onder sy bestuurslede tel, het ’n beroep op Zuma gedoen om die teistering, intimidasie en ondermyning van die leierskap van die tesourie te beëindig.
The post GORDHAN GAAN NIE VERKLARING BY VALKE AFLê NIE appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.