Die AfriForum-buurtwag in Hospitaalpark het vandeesweek vyf verdagtes in dié area vasgetrek.
Dít volg nadat ’n lid van die buurtwag drie verdagtes in ’n straat gewaar het en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die res van die buurtwag dadelik ontbied het, waarna die verdagtes gearresteer is.
Volgens Johnnie van der Walt, voorsitter van die AfriForum-tak in Hospitaalpark, het die verdagtes ’n skootrekenaar, ’n paspoort en twee messe by hulle gehad. “Dit het later aan die lig gekom dat die verdagtes van Wilgehof na Hospitaalpark gevlug het nadat hulle ʼn man vroeër die aand beroof het.”
Van der Walt sê voorts dat daar tydens ondervraging bevind is dat die mans die skootrekenaar aan Nigeriërs verkoop het wat reeds op pad was om die gesteelde items te kom haal. Hulle is ook later gearresteer.
Die verdagtes kan moontlik aan verskeie ander misdade wat die afgelope tyd in dié gebied plaasgevind het, verbind word.
“Die flinke optrede van die buurtwag en die plaaslike SAPD – en die goeie samewerking tussen dié twee partye – het tot die suksesvolle arrestasies gelei. AfriForum hoop om in die toekoms ook nou saam met die SAPD te werk om misdaad die nekslag toe te dien en die gemeenskap te beveilig,” sê Pieter Myburg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
VERKLARING
The post AFRIFORUM-BUURTWAG TREK VYF VERDAGTES VAS appeared first on Radio Rosestad 100.6FM.